Friday 22 November 2013

BOEKRESENSIE

DIE ANDER VROU

Kristel Loots

LAPA


LINDA IS DIE VROU WIE SE KANT VAN DIE SAAK SELDE GESTEL WORD: SY IS "DIE ANDER VROU" . . . 

Dit help nie jy beoefen volstruis-politiek nie - die dinge gebeur. 

Linda word wakker op die eerste oggend van haar wittebrood en besef meteens: dis hoe ander mense haar sien en hoe sy oor haarself voel. Die ander vrou, die egbreker, flerrie, skelmpie, skarlakenvrou, noem maar op. Dis sy. Wat sy egter nie verwag nie, is dat die glans en betowering van die huwelik en voorafgaande opwindende verhouding, so gou sal verflou nie. Haar prins se streke kom sommer vroeg al uit en die krake in haar blink-nuwe huwelik begin wys. Boonop dreig 'n ou geheim uit haar verlede om haar nuutgevonde geluk te bederf. 

Nes jy dink "aha! dis jou verdiende loon!" kom die ander kant van Linda na vore en ongesiens begin jy besef sy het ook 'n storie. Die saak is nie so eenvoudig nie en jy vind jouself in die netelige posisie dat jy moet erken: elke saak het meer as een kant en Kristel Loots is 'n meester om jou al die kante deeglik te wys. Om sake verder te kompliseer sleep dominee 'n handlanger nader met die ongewone naam Makarios om Linda se kop verder deurmekaar te krap. 

Hierdie fiktiewe roman ontleed die karakters deeglik en ontknoop met heerlike humor en vaardige taalhantering. Dis 'n moeilike onderwerp en al wil jy ook hoe graag oordeel en klipgooi, jy word self meegesleur en besef algaande; daar is genade. Ook vir die ander vrou.

Heerlike leesstof vir lang, lui-lekker vakansiedae. Geniet!





No comments:

Post a Comment