Monday 9 September 2013




Siende Blind - Chanette Paul


Uitgewers: LAPA


Hoe bly jy staande as jou man van twintig jaar op ‘n oggend net skielik die bom laat val dat daar iemand anders in sy lewe is? Erger nog, dat die nuwe liefde in alle opsigte ligjare beter is as die huwelikslewe wat jy gedink het so na aan ideaal is dat dit ‘n droom moet wees.
Hierdie droom verander oornag in ‘n nagmerrie wanneer Cara se hele lewe meteens dreig om in mekaar te stort. Die een na die ander ramp tref haar en sy begin wonder of haar lewe werklikheid is of iemand se siek idee van ‘n grap.


Haar pa staan op trou met ‘n vrou jonger as sy self, iemand dreig om haar skrywersidentiteit te steel terwyl niemand haar wil glo nie en boonop sterf haar uitgewer onverklaarbaar juis op die tydstip dat hulle op die punt staan om ‘n deurbraak te maak met rolprentregte.


Hierdie is ‘n boek wat jou enduit boei. Die spanningslyn span later so styf dat jy agterkom jy lees al vinniger en vinniger en nes jy dink jy het die geheim uitgepluis, is daar nog ‘n onverklaarbare kinkel in die kabel en die blivet bly so geheimsinnig as altyd. Die leser bly tot die einde toe ‘siende blind’ en wanneer die ontknoping uiteindelik kom, word jy begelei om dan te besef wat eintlik heeltyd oop en bloot voor jou gelê het. 


Chanette Paul het haar deeglik gevestig as ‘n groot gewig in die genre van spanningsroman en haar karakters bly nuut, haar stories oorspronlik en vars en haar aanslag plaas haar onder die beste van die bestes. 
As gekruide taal nie jou ding is nie, bly weg, maar as jy lankal glo dis tyd dat iemand skryf soos mense praat sal jy haar boeke boeiend en uiters intelligent saamgevoeg vind.


No comments:

Post a Comment