Tuesday 16 July 2013

STORIES

KORTVERHAAL

BUURMAN


Ek geniet my voorstedelikheid terdeë. Noem my snobisties, nouveau riche of sommer plein opstêrs, maar my swart blinkleer Prada stewels en Louis Vuitton handsak komplimenteer my appelgroen snyerspakkie perfek en ek weet dit. By die werk drink ek elke kompliment in wat ek kry en knik geoefen-skaam en sê bedees dankie, maar binne-in blom ek. Hierdie selfvertroue is swaar verdien en dit het jare se klim en trap gekos om bo te kom.

Na skool het ek aansoek gedoen om ‘n beurs en kliphard studeer om uiteindelik my Meestersgraad in Afrikaans te behaal en met ma en pa se dood ses maande uitmekaar het ek die erfgeld gevat en vir my hier in ‘n stil singel in ‘n deftige voorstad van Pretoria, ‘n pragtige meenthuis gekoop waar ek saans my skoene uitskop en in die sagte lamplig ‘n Martini drink voor ek vir my ‘n boutiek-ete aanmekaarslaan. Suburbia pas my so gemaklik soos my sagte leer stewels.

Tot die dag toe my nuwe buurman my een oggend vroeg buite by die motorhuis raakloop. “More,” sê hy, “Ek is jou nuwe buurman Stian. Sebastian Hermann” en hy steek sy bruingebrande hand uit na my. Skielik weet ek presies waar die term bladskud vandaan kom en ek mompel “Welkom, ek is Desi, Desiré van Heerden”, terwyl my tande behoorlik op mekaar klap. Met die wegry kyk ek in my truspieëltjie en sien hoe die bielie-van-die-Bosveld my met sy hande op sy heupe agternakyk. “Hm, glad nie sleg nie,” dink ek en skrik behoorlik toe hy so ewe vir my waai. So asof hy weet ek hou hom dop. Die vermetele kapokhaan!

Die hele dag dwaal my gedagtes terug na die ferm handskud en die intense donker kyk in sy groen-bruin oë. Ek wonder wat doen hy vir ‘n lewe. Dit lyk nie juis asof hy kantoorwerk doen nie, daarvoor is sy bruingebrande gesonde voorkoms net te natuurlik, selfs in die spierwit golfhemp en snyersbroek.

Dit vind ek sommer daardie selfde aand nog uit. “Ek is ‘n ontwikkelaar”, bied hy ongevraagd aan toe hy my weer by die motorhuis raakloop, “en ek is hierdie naweek in Plettenbergbaai waar ons ‘n nuwe Gholflandgoed ontwikkel. Ek sê maar net sodat jy weet”. 

Toe ek nie antwoord nie vra hy “En jy, wat doen jy vir ‘n lewe”
“Ek is ‘n lektor in Afrikaans”
“Jy bedoel lektrise”, korrigeer hy my.
“Nee, ek bedoel lektor. Daar bestaan nie meer so iets soos ‘n lektrise nie”
“Nou goed dan, buurman,” sê hy en ‘n lui glimlag speel om sy vol mond, “as jy so sê dan is dit seker so”

Van toe af is ek Buurman as ons mekaar toevallig buite raakloop.

Daar is net vier huise in die sekuriteitskompleks en ons klompie sien mekaar gereeld buite by die motorhuise in die singel, of in die tuine wat privaat, maar tog ook oop is. Mev Joyce Mabula is ook enkellopend en vir haar sien ek maar min. Dan is daar Riëtte en Dawie met hulle twee spruite. Dawie reis baie en Riëtte lyk vir my altyd hartseer, maar die tweeling van vyf is lieftallig en oulik en kom kuier gereeld by my oor ‘n naweek.
Klein Dawie is vreeslik bekkig en op ‘n oggend kondig hy aan: “Mamma sê jy is te ghrênd vir ons en sy is te skaam om hier te kom kuier.” Ek voel vreemd gevlei en terselfdertyd ook jammer vir die beskimmelde arme mens en in my binneste dink ek, “As jy maar weet waar ek vandaan kom . . .” 
Ek onderdruk vinnig die gedagte en gloei weer in die glorie van my geskepte glans-wêreld en peperduur meubels.

Saterdagmiddag lê lui agteroor en bak in die laatmiddagson toe ek skielik ‘n kommosie buite by die motorhuise hoor. Ek storm by die voordeur uit en neem ‘n warboel beelde met een kyk in. 
Mev Mabula staan verbouereed met die afstandbeheer in haar hand terwyl die geroeste rooi rammelkas tot stilstand kom. 

“He followed me in,” stamel sy op my vraende kyk.

“Hoezit, Cherrie!,” roep die ouerige man met die uitklimslag in my rigting. 

Ek hou aan die veiligheidshek vas om nie agteroor te slaan van pure skok nie.
Daar is net ‘n handjievol mense wat my kleintyd bynaam ken en hier voor my, in lewende lywe staan Stanley, oorle’ ma se broer wat vir my as driejarige ‘n slukkie van sy Sherry aangebied het. Hoor en sien kon vergaan soos ek die res van die aand geraas het oor nog “Tjerrie” tot my ma se groot ergenis.

“Shurl,” roep hy met so ‘n draai in sy stem, “Kyk hoe ghrênd het die kind geword”, en antie Shirley bondel agter hom by die passasierskant uit. Uitgerys soos ‘n deegbroodjie kom sy aangewaggel met walle en walle tiervel wat oor die stywe swart romp val. 
Behalwe vir die golwe pikswart hare wat nou geel gebleik en kort geknip is, lyk sy presies nog net soos ek haar onthou. Die glimlag agter die gekraakte rooi lippe wys nog steeds die effense gaping tussen die twee voortande.
“Smittie,” roep oom Stanley, “bring die kitare en speakers, vanaand gaan ons ‘n opskop hou!”
Niemand kon ooit presies uitwerk waar Smittie in die prentjie pas nie, maar waar Stanley en Shirley gegaan het, was Smittie altyd by. ‘n Ware, egte sidekick as ek ooit een gesien het.

Skielik begin flitse uit my kinderjare soos ‘n rolprent in my kop afspeel en ek sien gelyktydig ‘n rokerige voorhuis met laggende grootmense, ‘n kombuis met ‘n kale gloeilamp wat aan ‘n draad van die plafon afhang, elektriese kitare wat oorverdowend speel en ons kinders wat in die slaapkamer van pure oormoegheid op die beddens spring en lag, dan bo-op die hangkas staan en afspring op die beddens terwyl ons lag en lag en lag.
“Shurl, my girl, vanaand gaan jy twist en twirl!”
“Oe, my swak blaas, Stan!,”giggel Shirley, “Wag, ek gaan gou na die gemakkie toe en dan, Stanley, dan sal jy jou steps moet ken ou kêrel!”

Shirl kry ‘n raps op die agterstewe en sy lag in Stanley se rigting.

Ek herstel nog van die reuse skok toe ‘n bekende stem skielik agter my praat
“Buurman, het die aliens geland, of wat?”
“Wat maak jy hier?” vra ek en nou dreig my bene om onder my pad te gee
“Hallo? Ek bly hier langsaan, onthou jy?” lag sy stem en ek sien die donkerkop wat agter hom staan met haar hand oor haar mond geslaan.
Ag nee, nie dit ook nog nie. Sy meisie moet nou ook my skande aanskou.
“Ek dog jy is in Plett vir die naweek”
“En ons almal weet wat dog gedoen het, nê?” lag hy nou openlik terwyl hy die spektakel aanskou. Dog se maat kom nou langs hom staan en gaap die spulletjie oopmond aan.

“Moenie net daar staan nie, tjomma,” roep Stanley terwyl hy ‘n paar biere in Stian se rigting swaai, “Bring jy die liquid snacks nader. Die mammies se bene moet gepiekel word vir die tiekiedraai!”
“Bring stoele, ou girl,” roep Stanley na my kant toe, “Die plek van jou is net reg vir ‘n lekker opskop!”
My kop sing soos ‘n besie maar my bene wil nie werk nie
“Toe-toe, Cherrie,” praat ‘n bekende stem agter my, “Jy hoor vir Stanley, hier kom ‘n helse konsert vanaand”.
Ag nee, nie dit ook nog nie. Hoe lank staan hy al die show en bekyk?

Mev Mabula word ‘n bier in die hand gestop en toe sy protesteer, bring Shirley ‘n lang glas uit die kombuis te voorskyn en druk my verstomde buurvrou summier in ‘n tuinstoel in terwyl sy paai, “Relax, darling, just relax and enjoy the ride”

En wat ‘n ride sou dit nie word nie!

Later kom Riëtte met haar bleek, “afdraend gevreetjie”, soos Shirley opmerk en die tweeling by en dit word ‘n aand van klank en kleur en duur versnapperings wat uit my yskas uit aangedra word terwyl Stanley en Shurl draai en swaai en Smittie die kitare slaan dat hoor en sien vergaan. Joyce Mabula jive later onder luide toejuiging en die tweeling raak uiteindelik uitgeput op my sitkamer bank aan die slaap. Stian stook vir Stanley op om nog vinniger te draai en selfs die donkerkop kruip ook later uit haar dop en onder sy blad uit en hulle twee dans die teerblad aan die brand.

Wat ‘n aand word dit toe nie.

Ek weet nou nog nie wat die grootste was nie - die skok van die skielike konfrontasie met my verlede of my verligting om toevallig iewers gedurende die aand uit te vind dat dog-se-maat toe al die tyd sy suster is wat onverwags opgedaag het en sy naweekplanne na Plett in die wiele gery het.

Wat ek wel weet, is dat toe die rooi kar die aand met ‘n laaste backfire by die sekuriteitshekke uitry, dat ek net in my hart geweet het dat ek hier vanaand ‘n rubicon oorgesteek het en dat die spesiale kyk in die groen-bruin oë beslis nie my verbeelding is nie.


No comments:

Post a Comment